top of page
Slegs die Rondawel en die Fonteinhuis het oorgebly as bewyse van Jongensfontein se geskiedenis, wat tot so ver as 1762 nagespoor kan word.
In Junie 1970 het hierdie strukture die eiendom van die munisipaliteit geword en op 13 Desember 2002 is die Fonteinhuis Museum en Inligtingsentrum geopen.

RONDAWEL BIBLIOTEEK

The fountain house back in the day
​
​

Die oudste, asook die kleinste, van Jongensfontein se historiese geboue,  is na bewering gebou rondom 1932 vir Giepie en Minnie Joubert, ‘n gesin wat geboer het op die plaas Soetmelksrivier in die Riversdal distrik. 

​

Volgens die boek deur Barbara de Jager, Jongensfontein – van suiping to sauna (histories en anekdoties) (1999) , was die restourasie van die twee geboue munisipaliteit se agenda sedert die tagtigerjare. Daar is destyds voorstelle ontvang om die Fonteinhuis as biblioteek / vergadersaal / bergingsplek van stukke eie aan Jongensfontein te gebruik (p. 212).

​

Midde die uitbreek van die Covid-19 pandemie in 2020 het Naas Palmer, op daardie stadium inwoner en voorsitter van JIV, in samewerking met die munisipaliteit en inwoners, die rondawel opgeknap en gereed gekry om die tuiste te word van Jongensfontein se eerste biblioteek. Die rietdak is herstel, die sementsvloer is gegooi en die mure geverf.

​

DIE RONDAWEL BIBLIOTEEK​

​

​

Met ‘n verligting in die Covid-19 inperkingstyd teen November 2020 kon mens weer met maskers aan, en ver van mekaar, buite rondbeweeg, en is inwoners ingelig dat die rondawel as ‘n gemeenskapsbiblioteek oopmaak. ‘n Paar losstaande boekrakke, stoele en koffietafels is geskenk en inwoners en vakansiegangers kon begin om boeke te neem en weer later terug te bring. Dit was onmiddelik ‘n gewilde inisiatief, en binne ‘n paar dae was die rakke vol. 

Die biblioteek is van die begin af as ‘n eerlikheidsbiblioteek benader:  geen personeel nie, 'n voordeur wat oopstaan bedags – elke besoeker neem verantwoordelikheid vir hulle gebruik van die biblioteek.

 

In 2021, het lede van JIV fondse geskenk en ‘n plaaslike bouer, Hardu Maritz, en sy span het mooi boekrakke gemaak wat die ronde vloei van die rondawelmure volg. Meer boeke is geskenk, asook legkaarte, musiek CDs en DVDs.

 

Die Rondawel Biblioteek is amptelik geopen op 6 Maart 2021 deur Grant Riddles, burgemeester van die Hessequa Munisipaliteit.

DIE RONDAWEL BIBLIOTEEK

HONESTY LIBRARY

​
​

Die leenplaas Zwarte Jongersfontein, alias Groote Jongensfontein, 2973 morge (±2,546 ha) groot en geleë tussen die Duivenhoks- en die Goukou Rivier, is in die agtiende eeu per permit as weidingsplaas aan boere uitgegee.

IIn 1855 het hierdie gebied ‘n gesamentlike erfpagplaas (perpetual quitrent farm) geword, toegeken aan sewe boere.

In 1916 is hierdie gebied onderverdeel, en het 'n porsie van die grond restant die eiendom geword van George Frederik Muller.  Sy transportakte het egter ‘n serwituut-aanhangsel gehad wat aan alle besitters van onderverdelings van die oorspronklike Zwarte Jongersfontein water regte (suiping vir vee) toegeken het. 

Hierdie 12 morge (±10 ha) serwituutsuipingsgrond rondom die standhoudende fontein staan vandag nog onder ou Jongensfonteiners as Die Suiping bekend. 

Sommige eienaars van water regte het, op grond van hulle besit van onderverdelings, strandhuisies op Die Suiping gebou.

Twee van hierdie eienaars was Giepie Joubert, die eerste eienaar van die rondawel, en Wouter du Preez, die oorspronklike eienaar van die fonteinhuis.

In 1966/67 is die landgoed van Jacubus Lodewicus Muller (seun van George Frederik, en, sedert 1925, eienaar van sy pa se porsie van Zwart Jongensfontein en van water regte) onteien.  Die dorp Jongensfontein is op sy grond uitgelê. 

Hierdie onteiening van water regte het ‘n tien jaar lange dispuut meegebring en tot ‘n uiteindelike arbitrêre beslissing gelei. Drie suipingshuise het in die slag gebly.

Slegs die Rondawel en die Fonteinhuis het oorgebly as bewyse van vervloë grondbesit en die siputt rondom water regte. 

Die geboue verteenwoordig ons dorp se geskiedenis op die oorspronklik serwituutgrond en ‘n gedeelte van Die Suiping. 

​

ALGEMENE HISTORIESE AGTERGROND
​
​

Die boufases van huisopristing by die strand Jongensfontein was soos volg: eers riet-en-klei-huisies, dan sink- en plankhuisies, later kalkkliphuise, gevolg deur seekliphuise, nog later huise van sementblokke en uiteindelik steenhuise. Die Rondawel en die Fonteinhuis verteenwoordig dus die seeklipfase en staan op die terrein waar vroeër riet- en kleihuisies (uit die eerste boufase) gestaan het. Ook die boustyle kan as min of meer tiperend beskou word. 

Die geboue verteenwoordig ons dorp se geskiedenis op die oorspronklik serwituutgrond en ‘n gedeelte van Die Suiping. 

 

Verskeie seekliprondawels is vanmelewe gebou - nog een staan elders in die strand. Huisies soos die Fonteinhuis, met vierkantige hoofdeel en toegeboude stoep met houtklappe was algemeen in vroeë Jongensfontein. Van hulle staan vandag nog, totdat ontwikkeling ook hulle laat kantel. Hierdie twee geboue bied dus baie moontlikhede vir die bewaring vanJongensfontein- en wyer kontreigeskiedenis.

 

Benewens reeds genoemde feite is daar ook die moontlikheid dat dit in bewaringskompleks kan word deurdat "replikas" van die oorspronklike riet-en-klei-huisies, die kookhuisie die buitebakoond bygebou kan word. Met die bewaring van hierdie twee geboue en die benutting daarvan as bewaarplekke van die geskiedenis, word heem- en museumkunde na die mense gebring en kan hulle dit saam met hulle vakansie geniet.

- UITTREKSEL UIT DOKUMENTE OPGESTEL DEUR BARBARA DE JAGER

​

ARGITEKTONIESE AGTERGROND
bottom of page